Momentum Aardklop - Belofte van vere — Events · The Go-To Guy

Momentum Aardklop - Belofte van vere

Fri, 02 Oct 2026, 12:00 · Potchefstroom
Momentum Aardklop - Belofte van vere

"Terug op publieke aanvraag bring Momentum Aardklop bring hulde aan die geliefde Breyten Breytenbach in ’n spesiale program met opnames van sy eie voorlesings, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings (hetsy nuut of nuwe verwerkings). Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar beroemde pa. Daphnée se voorlesing vroeër vanjaar by die huldigingsbyeenkoms in Wellington oor haar pa se dood was ontroerend en gepas: “Parys was daardie oggend in ’n ondeursigtige witheid gehul. Ek het vroeg wakker geword en aan hom gedink – my vader van ’n duisend gesigte. Ek het deur ou fotoalbums geblaai terwyl my seuns, Bokkie en Jannie, om my gespeel het. Skielik het ek die balkondeur hard hoor toeklap. Onseker oor wat gebeur, het ek buitentoe gehardloop. Daar, op die balkonreling, het ’n majestueuse neushoringvoël gesit; ’n voël met ’n rooi snawel, dieselfde fluweelrooi as die mynwerkerskoene wat Breyten amper nooit uitgetrek het nie. ’n Voël uit Suid-Afrika, op die vooraand van die winter, in die hart van Parys… Die voël sê vir my: ‘Moenie bang wees nie, klim op my rug. Ek neem jou op reis.’ ” Kom saam op reis met uitstaande kunstenaars om Breyten op sy beste te beleef, die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif, “Mag die bome groen bly” en “Slaap klein beminde”. Belofte van vere is ’n intieme blik op die verhouding tussen ’n pa en dogter, te midde van al die verwikkeldheid rondom sy wêreldwye roem, berugtheid, aktivisme en taaldebatte.

Met: Rolanda Marais en Eben Genis (stemkuns), Ilse Klink (sang), Concord Nkabinde (baskitaar), David Klassen (tromme), Leon Gropp (kitaar en sang) en Laurinda Hofmeyr (klawers en sang)
Teks: Breyten Breytenbach en Daphnée Breytenbach
Teksverwerking: Saamgestel en aangepas vir die verhoog: Anna Davel
Artistieke regisseur: Anna Davel
Spelleiding: Philip Rademeyer
Musiekregie: Laurinda Hofmeyr
"

View this event on The Go-To Guy →

See everything on in the North-West →