Momentum Aardklop - Geagte kampeerders
"“Geagte kampeerders, as jy moeg word vir die lewe in die stad, vat net die Willewaterspad – die bogemiddelde, sagte grondpad. Met ekstragroot staanplekke, welige wilgerbome en kabbelende waters. ’n Hengelaarsparadys, behulpsame personeel, ’n ekstrabreedte-supertube en mensgemaakte warmwaterbronne, met ’n uitputtende dagprogram vir oud en jonk…” Dit was wat geadverteer was, maar as iets te goed klink om waar te wees… In hierdie splinternuwe komedie is Wynand van Vollenstee te sien as Oom Frik, opsigter, eienaar en bestuurder van die Willewaters-kampeerterrein. Elke Desember staan hy slaggereed om die groot gros Transvalers te ontvang. Maar wanneer groot tragedie die kampterrein tref en mense noodgedwonge in aanraking kom met Moeder Natuur, “afblaasmatrasse”, neus-in-die-lug-bure, ongeskikte kinders, iemand se rondloperhond en die snobistiese chaletbewoners, word die gort behoorlik gaar. Kom lag lekker saam in dié skreeusnaakse komedie en beleef al die tipiese kampkarakters wat altyd hul verskyning by enige kampterrein maak.
Met: Wynand van Vollenstee en Thiart Li
Teks, regie en produksiebestuur: Wynand van Vollenstee
Stelontwerp: Cre8tability
Kostuumontwerp: Hollywood Costumes
Verhoogbestuur: Martin Breedt
Vervaardiger: That’s Freakin Nice Produksies
Ouditorium
Komedie
Afrikaans
Geen o. 13 (T)
70 min.
2 Okt. 09:30"